Passasiersmotors het in Junie die hoogste verkoopsyfer sedert 2006 aangeteken nadat 35 918 eenhede volgens die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers (Naamsa) verkoop is. Dít, tesame met ’n stewige lopie in die afdeling vir ligte handelsvoertuie (LHV), het die Junie-mark verby die 50 000-kerf tot 51 891 eenhede gedruk.
“Ons noteer steeds baie sterk bemarkingsbedrywighede onder omtrent alle voertuigfabrikate,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors. “Dit sorg vir ’n regte kopersmark, wat verder deur ’n string nuwemodelbekendstellings in kernsegmente in die mark aangehits is.”
Volgens Hamman is die mark verder deur ’n gunstige rentekoersklimaat ondersteun, terwyl talle kopers wat die afgelope paar jaar die vervanging van hul voertuie uitgestel het, ook tot die mark teruggekeer het.
Die Toyota Etios is een voorbeeld van ’n nuwemodelbekendstelling wat groot belangstelling ontlok het en die groei in verkope ondersteun. Toyota se nuwe intreevlak-mededinger is in Junie by 2 105 nuwe klante afgelewer. Dit het dié model gevestig as een van die topverkoper-passasiersmotors in Suid-Afrika.
“Die Etios het die uiters mededingende Sub B-segment betree en hom reg van die begin af as sleutelmodel in dié vinnig groeiende deel van die mark gevestig. Dit is interessant dat die Etios hierdie marksegment aansienlik laat groei het. Dit dui daarop dat meer eerste-motor kopers en gebruiktemotor-kopers hierdie mark danksy ’n aantal bekostigbare produkte betree,” sê Hamman.
’n Hoëvlak-ontleding van Junie se verkoopsyfers dui daarop dat handelaarsverkope, ’n aanwyser van private verkope, vir nagenoeg 80% van die algehele mark se verkope gesorg het. Toyota het selfs beter presteer met handelaarsnetwerkverkope van 86%.
Dit kan deels toegeskryf word aan die sukses van nuwe en onlangse nuwemodelbekendstellings soos die Etios, die Avanza en die opgegradeerde Hilux- en Fortuner-reekse.
Dié groter vraag onder kopers word verder deur syfers van Toyota Finansiële Dienste (TFS) bevestig. Volgens TFS het die volume finansieringsaansoeke vir nuwe voertuie in Junie met 15,7% teenoor die gemiddelde syfer vir die afgelope ses maande gegroei.
Die Hilux behou sy posisie as Suid-Afrika se topverkoper-voertuig en altesaam 3 067 van dié bakkies is van die hand gesit. Die Fortuner het weer die 1 000-kerf oorgesteek nadat altesaam 1 030 eenhede in Junie verkoop is. Hilux-verkope was een van die kern-dryfkragte in die stewige LHV-mark, wat sy hoogste verkope vir Junie sedert 2008 aangeteken het.
"Die vraag na nuwe voertuie bly sterk en ons verwag dat hierdie momentum in die tweede helfte van die jaar sal voortduur. Op dié gebied verwag ons dan dat die mark in 2012 deur die 600 000-kerf sal breek," sê Hamman.
Toyota het ’n belangrike uitvoerteiken in Junie gevier nadat die voertuiguitvoersyfer plaaslike verkope oorskry het. Toyota Suid-Afrika Motors het verlede maand altesaam 10 268 eenhede na meer as 57 markte regoor die wêreld uitgevoer.
"Ons hou steeds die Europese ekonomie fyn dop om die uitwerking daarvan op uitvoervolumes en die moontlike gevolg daarvan wat enige verdere daling in hierdie algehele mark op ons plaaslike ekonomiese werklikheid kan hê, te bestudeer” sê Hamman.